GEEN SEKS, GEEN SKADEVERGOEDING
DOI:
https://doi.org/10.17159/obiter.v32i1.12317Keywords:
eis om skadevergoeding, verlowingskontrak, kontrakbreukAbstract
Daar kan nie langer ernstiger gevolge aan verlowingsverbreking geheg word as aan huweliksbeëindiging nie. Dit is die gevolgtrekking wat adjunkpresident Harms gemaak het in die saak Van Jaarsveld v Bridges (ongerapporteerde saak no 344/09 2010 HHA ZASCA 76 van 27 Mei 2010). Wanneer ’n verlowing verbreek is, kon die benadeelde party die “skuldige” party dagvaar vir troubreuk en as troubreuk bewys is, kon daar ook ’n eis om skadevergoeding ingestel word. Alhoewel dit nie ’n vereiste is nie, word ’n huwelik gewoonlik deur ’n verlowingskontrak voorafgegaan. Hierdie kontrak is ’n kontrak sui generis. Die verlowing is ’n kontrak om in die huwelik te tree en sodra die huwelik voltrek word, kom die kontrak tot ’n einde. In die Romeinse reg kon die partye nie gedwing word om ’n
verlowingskontrak te sluit nie, en as die verlowing verbreek word, kon geen skadevergoeding geëis word nie. In die Suid-Afrikaanse reg kan daar wel vandag beperkte skadevergoeding na die verbreking van ’n verlowingskontrak geëis word. Die hof sal in navolging van die Bridges-uitspraak slegs verspilde uitgawes aangegaan ten opsigte van die huwelik se voorbereidingsin ag neem. Vroeër is die volgende in ag geneem by die bepaling van skadevergoeding; die geldelike verlies wat die eiser gely het, die finansiële posisie van die verweerder, die sosiale stand van die partye en die omvang van die eiseres se emosionele pyn. Wanneer ’n huwelik egter deur egskeiding beëindig word, kan daar nie skadevergoeding weens kontrakbreuk geëis word nie. Hierdie realiteit is onlangs weer bevestig in D v D (2007 ongerapporteer WPA, saaknommer 8422/2006; en sien ook Le Roux “Is ’n Huwelik ’n Kontrak?” 2010-02-24
Beeld). In bogenoemde D v D is bevestig dat ’n huwelik nie ’n kontrak is nie en derhalwe is die remedies vir kontrakbreuk nie tot die beskikking van die benadeelde party nie. Die gevolg hiervan is dat ongeag die feit dat seksuele gemeenskap ’n genieting van niemateriële aard van die huwelik is, kan ’n vrou (of man) nie regtens ’n eis om skadevergoeding teen haar man (of vrou) instel indien daar geen seks in die huwelik plaasvind nie. Dit kan wel bydra tot die bewys van onherstelbare verbrokkeling in die sin dat daar nie ’n
normale consortium omnis vitae bestaan nie.